Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 24 FEBUARIE 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

INTEGNET BESPREEK VOORGESTELDE KLT-REGULASIES

PRESIDENTSNET FOKUS OP OKOSA-SARL-VERGADERING

SARL NASIONALE KONVENSIE: KRY VANAAND DIE BESONDERHEDE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTEGNET BESPREEK VOORGESTELDE KLT REGULASIES

Die Integnet vanaand om 20:00 sal die voorgestelde Kraglyntelekommunikasieregulasies bespreek sowel as die besware daarteen wat die SARL teen die sperdatum van 6 Maart aan OKOSA gaan lewer.

Hierdie is ’n geleentheid om die erns van die nuwe regulasies en die impak wat KLT op HF-ontvangs en in besonder op mateurradiokommunikasie sal hê, indien dit ingevolge die voorgestelde regulasies ge-implementeer gaan word.

Die voorgestelde regulasies Is op www.sarl.org.za beskikbaar, klik op info en kies PLC/BPL. Bestudeer asseblief die regulasies en lewer vanaand u inset tot ons besware.

PRESIDENTSNET FOKUS OP OKOSA-SARL-VERGADERING

Graham Hartlett, ZS6GJH, sal tydens vanaand se Presidentsnet die uitkoms van ’n vergadering met die voorsitter van OKOSA, Paris Mashile. Tydens die net sal Dennis Green by hom aansluit om te gesels oor die program vir die SARL se Nasionale Konvensie wat vanaf 11 tot 13April 2008 in Bloemfontein plaasvind.

Klubs wat hul plaaslike herhalers aan die netwerk wil koppel en sodoende interaktief wil deelneem aan beide die Presidentsnet en Integnet moet per e-pos voor 12:00 vandag besonderhede van hul herhaler en die telefoonnommer wat verbind moet word aan armi@sarl.org.za stuur.

Sluit vanaand deur ’n herhaler naby jou by ons aan, deur Echolink of oudio via ons webwerf.

SARL NASIONALE KONVENSIE: KRY VANAAND DIE BESONDERHEDE

Die Bloemfontein Radioamateurklub is hierdie jaar gasheer van die SARL se Nasionale Konvensie vanaf 11 tot 13 April in die Rosestad. Die program sluit in eksotiese titels wat ’n uitstekende naweek van amateurradio beloof wat die hele gesin kan geniet. Geleenthede soos "A feast of Stars", "A feast of Decisions" en "The Feast of the Invited" is op die program. Sit die datums nou in jou dagboek. Soos vroeër berig sal Dennis Green, ZS4BS, by die the Presidentsnet vanaand aansluit met al die besonderhede. U kan op www.sarl.org.za die volledige programbesonderhede en besprekingsvorm kry.

KOMPETISIENUUS

2008 SARL-KOMPETISIEHANDBOEK

Dennis, ZS4BS, die SARL se Kompetisiebestuurder vra dat lede seker maak dat hulle ’n afskrif van die 2008 SARL-Kompetisiehandboek het. Moet asseblief nie die 2006 of 2007 Kompetisiehandboek gebruik nie. Van die logstate en opsommings is aangepas/aangevul/bygewerk. Afskrifte van al die dokumente is aan die SARL-webmeester gestuur vir plasing op www.sarl.org.za. Dit kon ook vanaf www.zs4bfn.co.za/contesting.asp afgelaai word of van Dennis, ZS4BS, by zs4bs@netactive.co.za bekom word.

BHF/UHF-NAELLOOP

Vanmiddag van 16:00 tot 17:00 SAT word die eerste BHF/UHF-naelloop op 2 meter en 70 cm gehou. Die is ’n pretgeleentheid om aktiwiteit op hierdie bande te bevorder. Alle modusse kan gebruik word en 'n RS- of RST-verslag en Maidenheadruitverwysing word uitgeruil. Elke QSO tel 2 punte en die totale punte word bepaal deur die QSO punte te vermenigvuldig met die ruitblokke gewerk. Die sluitingsdatum vir die indiening van logs is 10 Maart.

SARL HAMNET 40 METER NAGEBOOTSTE NOODKOMPETISIE

Die jaarlikse SARL Hamnet 40 meter kompetisie sal vanaf 14:00 tot 16:00 SAT op Sondag 2 Maart gehou word. Dit is 'n foon alleen kompetisie tussen radioamateurs in Suider-Afrika. Suider-Afrika is in 8 sones verdeel vir hierdie kompetisie. Daar is vyf klasse van deelname - enkeloperateur stilstaande mobiel, enkeloperateur draagbaar, multi-operateur draagbaar, enkeloperateur basisstasie en kortgolfluisteraar.

Die klas van deelname bepaal wat uitgeruil word asook die puntetelling. Die volledige reëls vir hierdie sowel as die BHF/UHF-Naelloop kan gevind word in die 2008 SARL-kompetisiehandboek.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX toestande is goed vir die Noord-Oos en Noord-Wespaaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort, flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 20:00 is daar moontlike flou 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.

10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

24 Februarie - BHF/UHF-naelloop;
24 Februarie – Presidentsnet en integnet;
2 Maart - Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetisie;
8 Maart – RTA in Kaapstad;
8 Maart – Pretoriaklub se megasnuffelmark;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie;
11 tot 13 April – SARL AJV in Bloemfontein.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003